Uitnodiging tot ʼn gesprek oor Afrikaans in ʼn internasionale verband

Beste vriend/kollega

Hiermee ’n uitnodiging om deel te neem aan ’n inisiatief wat daarop mik om internasionale Afrikaanse inisiatiewe beter te koördineer. Die doel hiermee is om hierdie inisiatiewe se volhoubaarheid en impak te verhoog en om beter gebruik te maak van beperkte hulpbronne. Een van die reaksies op die behoefte om beter te koördineer, is die stigting van die Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA), ’n inisiatief waarby Afrikaans Internasionaal sal aansluiting vind.

Daar is op hierdie stadium te min bekend oor Afrikaanse inisiatiewe internasionaal om voordeel uit samewerking en sinergie te kan trek. Daar is tans talle inisiatiewe in verskillende domeine aan die gang (akademiese skakeling, onderwys, kultuur, ens.) wat byvoorbeeld nie optimaal benut word nie. Die redes hiervoor is onder meer moontlike oorvleueling in die projekte en inisiatiewe, ʼn gebrek aan fondse, persoonsgedrewe inisiatiewe, afwisselende en tydelike leierskap, en dies meer. As gevolg hiervan verloor inisiatiewe soms momentum of kom sonder ’n langtermyneffek tot ’n einde. Wat uiteraard ʼn verlies aan tyd en energie is en ook ʼn verkwisting van skaars hulpbronne.

In lig hiervan nooi ons u uit om deel te neem aan die saamstel van ’n inventaris van Afrikaans internasionaal. Watter inisiatiewe word deur watter persone of instansies met watter middele in stand gehou? Wat doen hulle en op watter teikengroepe mik hulle? Tot watter mate word reeds met instellings in Suid-Afrika en Namibië gekoördineer of saamgewerk? En vanselfsprekend ook ander toepaslike vrae. Voltooi asb hierdie vraelys: https://forms.gle/AYt9pa4QRn7iEEFW8

Deur antwoorde op dié en ander vrae te kry, sal dit makliker word om tot voordeel van almal te beplan vir samewerking en sinergie. Gevolglik sal ons die volgende baie waardeer:

  1. Beantwoording van die vraelys oor Afrikaans internasionaal: Die vraelys word as GoogleDocs-dokument saam met hierdie dekbrief uitgestuur. U antwoorde word dus outomaties gestoor. U kan hierdie brief en die vraelys gerus aanstuur aan ander mense wat dalk in hierdie inisiatief sal belangstel. Die spertyd hiervoor is: Vrydag 11 Maart.
  2. Deelname aan opvolggesprekke: Sodra genoegsame inligting ingesamel is, deel en bespreek ons dit graag met julle as direkte belanghebbers in Afrikaans internasionaal, ’n proses wat deur proff Yves T’Sjoen en Martina Vitackova van die Universiteit Gent gefasiliteer sal word.
  3. Aansluiting by gesprekke in Suid-Afrika en Namibië: Hierna sal ook in gesprek met Suid-Afrikaanse en Namibiese rolspelers getree word (Meer inligting hieroor volg later.)

Ons hoop om reeds in April 2022 in samewerking met julle die gesamentlike prentjie en ’n konsep-makroplan vir Afrikaans in internasionale verband aan julle voor te kan lê. Daarna kan ons saamwerk om die plan te laat realiseer. Ons sien dus uit na u insette!

Vriendelike groete

Conrad Steenkamp

Hoof van die Afrikaanse Taalraad