Taaloord Nuusflits 4-2014

Beste Taaloordvriende

Verlede jaar het ek op vier verskillende plekke in die land 'n voordrag gelewer met die titel: Woordereis na die Brontaal – 'n belewenis van die hart waar die gehoor teruggeneem is in tyd tot verby Aries-Sumeries en die Indusbeskawing met woorde en woorddele wat steeds herkenbaar is in Afrikaans. Die laaste geleentheid is op 14 Desember in die Kunsgalery van die Voortrekkermonument geopen deur 'n voormalige departementshoof van Afrikaans en Nederlands en geagte kollega van my, prof. Gert de Klerk, wat ook die verrigtinge afgesluit het.

Hierdie aanbieding wat ek as die hoogtepunt beskou, is opgeneem en pas as besonder mooi DVD bekend gestel. Die inhoud van hierdie opname is die volledigste van al vier voordragte omdat ek na elke voordrag kommentaar deur die gehoor kon byvoeg, soos byvoorbeeld oor die Atta Unsar in Duits. Ons het nou ook bykomende afbeeldings o.a. van die Indus-beskawing ingevoeg en dit verryk die aanbieding net nog meer.

Die navorsing vir Woordereis het my geplaas op 'n pad toegegroei deur eeue se digte onderbos, maar wat by nadere ondersoek geblyk het kosbare fynbos en woordworteltjies van onverwagse bekendhede in Afrikaans te bevat. Selfs al het ek met my aanbieding ook net daarin geslaag om te wys op ons taal-DNS en dat dit ons kan terugneem na die begin van spraak, asook dat ons gedagtes en hoe ons dit verwoord, in die toekoms weer op vrede gerig sal wees, het  ek twee belangrike doelwitte bereik.

Dit is opvallend in watter mate die inhoud van my digbundel Rooswater en dié van Woordereis ooreenkomste toon en 'n bepaalde binding vorm, dat die een lig werp op die ander en albei die weg na die Bron van taal volg.

Wat die hart van Ons Taal betref, is Woordereis 'n uitsonderlike toevoeging en wat die Hart betref, is Rooswater heilsaam vir die innerlike.

Vriendelike Taaloordgroete van huis tot huis en land tot land

Helena Liebenberg
http://www.taaloord.co.za

----------------------------------------------------------------------

Link Woordereis-DVD
Link Bestelvorm