Nieuw: Afrikaanse Kontemporêre Drama Argief

Die Afrikaanse Kontemporêre Drama Argief is met die inisiatief van Deon Opperman en met die ondersteuning van die Dagbreek Trust gestig en is sedert November 2016 aktief. Die doel van die AKDA is om 'n aanlyn databasis vir ongepubliseerde Afrikaanse dramas te skep – eerstens  om dit vir die nageslag te bewaar en tweedens om dit vir dramaliefhebbers, skrywers, vervaardigers en navorsers toeganklik te maak.

Daar is op die oomblik 330 tekste op die argief onder die volgende kategorieë: kontemporêre dramatekste, radiodramas, vertalings en dramas van toeka. Kategorieë in vooruitsig is: kinder- en tienertoneel.  Die argief word gereeld met nuwe tekste opdateer. Die tekste kan gratis aanlyn gelees word en kan ook teen 'n geringe bedrag, waarvan die skrywer 85% ontvang, afgelaai word. 

Jaarlikse Inskrywingsopsie:  Behalwe indiwiduele besoeke aan die argief, bied die AKDA ook nou aan geregistreerde en geakkrediteerde akademiese instellings 'n jaarlikse inskrywingsopsie. Die jaarlikse inskrywingsgeld vir akademiese instellings is R12 500, wat aan studente onbeperkte aflaai-regte van al die tekste op die argief sal bied.  Sonder hierdie opsie kan studente steeds die argief besoek en self tekste lees of koop om af te laai.

Indien u belangstel om hierdie fasiliteit aan u studente beskikbaar te stel, besoek gerus ons webtuiste. Bo regs sal u die  skakel vir "subskripsie" sien. 

Dit is belangrik om kennis te neem dat geen afgelaaide teks vir enige opvoering gebruik mag word voordat daar nie skriftelike toestemming van die skrywer/kopiereghouer ontvang is nie. Die kontakbesonderhede van kopiereghouers is op die titelblad van elke teks aangebring.