Hulpbronne en die aanleer van  ’n vreemde taal

In augustus 2022 is het congres van de Suider-Afrikaanse Vereniging voor Neerlandistiek deel van het Colloquium Neerlandicum van de IVN.

Daarom hebben we twee internationale studenten Nederlands en Afrikaans gevraagd om hun mening te geven over digitale leermiddelen die via het internet wereldwijd gratis beschikbaar zijn. 

In deze aflevering vertelt Hubert Wolanin (Poznań, Polen) over Beter Afrikaans.


Om  ’n vreemde taal aan te leer kan moeilik en lank wees, maar nie noodwendig vervelig nie. Om  ’n vreemde taal vlot te kan praat moet jy  ’n diepgaande kennis daarvan opbou en dit gebeur gewoonlik geleidelik. Hierdie hele proses verg tyd, dissipline en motivering van die leerling, maar met behulp van stewige bronne, leesstof en die manier waarop jy leer, kan die proses glad verloop en beslis meer effektief wees. Veral as jy  ’n minder gewilde taal soos Afrikaans wil bemeester, is dit baie belangrik om die regte hulpbronne en hulpmateriaal te vind wat gewoonlik meer beperk is as in die geval van ‘groot’ tale soos Engels, Frans of Duits.


Wat is Beter Afrikaans?

Dit is juis hoekom die webblad Beter Afrikaans geskep is. Sy hooftaak is om jou te help om Afrikaans beter te leer skryf, dit is  ’n vriendelike assistent vir diegene wat Afrikaans effektief wil leer. Die webblad bevat heelwat taaladvies wat op  ’n helder manier verduidelik word met relevante voorbeelde daarby.

Beter Afrikaans dek temas soos basiese spelling, die reëls van leestekens, grammatika, leenwoorde, vaste kombinasies en uitdrukkings. Wat ek fassinerend vind, is die moontlikheid om al die reëls in diepte te kan bestudeer sonder te veel komplekse linguistiese kennis. Al die reëls van die spelling word op  ’n toeganklike manier verduidelik met verwysing na bronne of verdere literatuur wat jy kan gebruik as jy nog meer oor die tema wil lees.


Meer as 'n databasis

Beter Afrikaans bied nie net  ’n webblad met  ’n databasis nie, maar ook  ’n app wat jy op jou selfoon kan gebruik. Jy skep jou eie profiel waarin jy die moeilikheidsgraad van die taal kan kies. Daar is drie vlakke: vir beginners, intermediêre en gevorderde leerlinge. Elke dag behalwe die naweek kry jy  ’n kort toets in Afrikaans wat jy op jou selfoon kan aflê. Die goeie ding daarvan is dat jy altyd terugvoer kry wat jou foute verduidelik en verwys na die reëls wat in die toets gevra word. Daar is selfs  ’n funksie van die app om  ’n groep te skep of by  ’n ander groep aan te sluit om saam met ander mense te leer en dan die resultate daarvan te vergelyk. Dit is veral nuttig vir  ’n groep studente en hul onderwyser om gereeld hul kennis uit te brei en hul vordering te meet. Jy sal daagliks  ’n e-pos ontvang met  ’n herinnering dat jy die toets kan aflê, wat ek baie handig vind.


'n Goeie aanbeveling

Ek dink Beter Afrikaans is  ’n goeie en effektiewe manier om jou Afrikaans te verbeter, veral vir mense soos ek wat Nederlands ken of Nederlandssprekend is. Die spelling word aan die hand van Nederlands verduidelik en die verskille tussen die twee tale word duidelik aangedui. Dit is veral nuttig vir my aangesien ek met die Afrikaanse spelling gesukkel het vanweë die ooreenkoms met Nederlands. Danksy die webblad en die app kan ek gereeld my twyfel uit die weg ruim. Beter Afrikaans word sterk aanbeveel om jou Afrikaans te sistematiseer en daarna uit te brei.


Hubert Wolanin studeert Neerlandistiek aan de Adam Mickiewicz Universiteit in Poznań (Polen). Hij werkt aan zijn MA-scriptie, die gaat over de invloed van de Poolse Novemberopstand 1830 op het ontstaan van België.